Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 21 Maart 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB.(Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

GAUTENGSE PIC-KURSUS VOL BESPREEK

LEDETAL OOR DIE 1 400 GRENS

SARL SE ALGEMENE JAARVERGADERING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

GAUTENGSE PIC-KURSUS VOL BESPREEK

Die kursus “Leer om ’n PIC-mikrobeheerder binne 4 uur te programmeer” vir Gauteng, is nou vol bespreek. Die kursus word eerskomende Saterdag by die NARS plaas. Indien u bespreek het, gaan asb. die besonderhede op www.sarl.org.za na, klik op RTA en volg die koppelings na die verskeie PIC2010-bladsye. ’n Kaart van paaie na die NARS is ook by daardie bladsye beskikbaar.

U kan steeds inskryf vir die kursusse wat in Durban, Kaapstad en Port Elizabeth aangebied gaan word. Indien daar nie ’n kursus naby u aangebied gaan word nie, waarom woon u nie die SARL se nasionale konvensie in Port Elizabeth by nie en skryf ter selfdertyd vir die kursus op 24 April in nie? U sal nie spyt wees nie.

BOUSTEL VIR WEERLIGVOORSPELLING WEER BESKIKBAAR

Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust het weer die boustel vir weerligvoorspelling in voorraad. Die bou van die stel is ’n ideale projek om op ’n Saterdagmiddag aan te pak en die voorspeller is ’n bruikbare apparaat om in die hok en in die huis te hê. Dit sal u waarsku wanneer ’n donderstorm in aantog is. Die koste is R130 wat verpakking en posgeld insluit. Volle besonderhede en hoe om te bestel, is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

SARL SE ALGEMENE JAARVERGADERING

SARL-lede word daaraan herinner dat al die AJV-dokumentasie op die gedeelte vir lede alleen van www.sarl.org.za beskikbaar is. Klik op die knoppie vir lede (members) in die boonste regterhoek van die tuisblad en tik u roepsein en PIN in. Daar is twee dokumente beskikbaar nl. die AJV-kennisgewing en die agenda en voorgestelde gewysigde grondwet.

Indien u nie die AJV kan bywoon nie, mag u enige lid, wat dit bywoon, benoem om u te verteenwoordig. Die persoon wat u benoem mag namens u stem. Dit is nodig dat u u gevolmagtigde goed moet inlig oor hoe hy of sy moet stem. Dit is ’n saak van vertroue tussen u en die persoon wat u aanstel om u te verteenwoordig.

’n Volmagsvorm is ingesluit in die AJV-kennisgewingsdokumentasie. Maak asb. seker dat u die instruksies noukeurig nakom en dat die vorm voor die sluitingsdatum ingestuur word.

LEDETAL OOR DIE 1 400 GRENS

Die ledetal van die SARL het verlede week deur die 1 400 grens gebreek. Die SARL is goed op pad om die doelwit wat vir vanjaar gestel is te bereik. Indien u nognie aangesluit het nie, doen dit nou. Besonderhede aangaande aansluiting is op die webwerf van die SARL beskikbaar.

Ons verwelkom die volgende nuwe lede en wens hulle ’n lang en vrugbare verbintenis toe met die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, die SARL:
ZR6DEK - Andrew Dekenah;
ZS2BK - Andre van Deventer;
ZR6JJP - Jean-Pierre Jordaan;
ZS1L - Alex Smith;
ZS6GRT - Gert Visser;
ZS1HNM - James Hayes;
ZR6IF - Francois Massyn;
ZR5DB - Tyron Brown;
ZU5K -K Brown;
ZS3EY – Colonel J W Papenfus;
ZSL610 - Graham Lambrechs;
ZS6BZT - Gideon Bothma;
ZR1FDT - Francois Du Toit;
C9IPAM - Pieter Myburgh;
ZS6-6000 - Andreas Raftopoulos.

PRESIDENTSNET 11 APRIL 2010

Hierdie is ’n vroeë kennisgewing van die volgende Presidentsnet. Dit sal op Sondag 11 April om 19:30 plaasvind. Die voorgestelde veranderings aan die grondwet sal verduidelik word, waarna besprekings daaroor sal volg. Daar sal ook terugvoering gegee word oor die strategiese indaba van die Raad.

KONSEP GEWYSIGDE REGULASIES – PUBLIKASIE NIE BINNEKORT NIE

Uit ’n gesprek met ’n senior uitvoerende beampte van OKOSA gedurende Vrydag verlede week blyk dit dat die inligting dat die publikasie van die konsep gewysigde regulasies wat op amateurradio betrekking het binnekort verwag kan word, nie reg is nie. Die konsepwysigings word nog deur die wetsafdeling van OKOSA nagegaan en tans is daar geen aanduiding wanneer die konsep in die Staatskoerant gepubliseer gaan word nie. SARLnuus sal luisteraars op hoogte hou.

FREKWENSIEVERANDERING VAN ARMI-UITSENDINGS

Op 28 Maart sal die uitsending op 17 860 kHz vervang word deur ’n uitsending op 17 560 kHz. Amateur Radio Mirror sal Sondae om 10:00 SAT op 7 205 kHz en 17 560 kHz (vanoggend nog op 17 860 kHz) op die lug wees met ’n heruitsending Maandagaande om 21:05 SAT op 3 215 kHz. Ontvangsrapporte sal waardeer word en kan gestuur word aan armi@sarl.org.za.

SARL-KANTOOR GESLUIT

Die SARL se kantoor is gesluit en heropen weer op Dinsdag 23 Maart.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 054 is steeds onaktief terwyl dit oor die Noordelike halfrond van die son beweeg. In die gebied aan die Oostekant van die sigbare gedeelte van die son het 'n paar sonvlekke gevorm en is Woensdag as sonvlek 1 056 gedoop. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week sal tussen 20 en 25 wees.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

17 m is ook smiddags oop na verskeie gebiede regoor die wêreld. Meeste aktiwiteit is gedurende Vrydagmiddae en natuurlik oor die naweke.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan gedurende daglig goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

19/21 Maart - SARL BHF/UHF Digitale kompetisie.
20/21 Maart - SARL BHF/UHF Analoogkompetisie.
20 Maart – HABEX-inligtingsvergadering om o9:00 by die Sci Bono Sentrum.
27 Maart - Snuffelmark van die Pretoria Amateurradioklub om 08:00.
27 Maart - PIC-programmeringskursus by die NARS.
31 Maart – SARL-80 m-klubkompetisie met PSK en RTD.
31 Maart – Sluitingsdatum vir stadium 1 van konstruksiekompetisie.
11 April – Presidentsnet om 19:30.
17 April – 2010-SA AMSAT-ruimtesimposium.
23-25 April – SARL Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
24 April – PIC-programmeringskursus in Port Elizabeth.
7 Mei - Sluitingsdatum vir stadium 2 van konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “ARMI” en volg die skakels. ‘n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003